About Me

My photo
A constantly curious and melancholic wanderer...

Saturday, August 20, 2016

Die ballade van Hannetjie L du Plooy

'n Uitbreiding van "Die ballade van Jakob F de Beer" deur Christopher Torr

Dit is 12 uur.  Die wind is stil. Hannetjie du Plooy sit by die tafel op haar stoep en kyk vir die stoel oorkant haar. Sy dink aan die hande wat die stoel aanmekaargesit het.  Haar Oupa se hande.  Dis al wat sy kan onthou van haar Oupa.  Sy groot, growwe hande.  Sy raakvat en skuur en skaaf.  Sy troos en lomp afvee van `n traan as sy val.  My hande het al swaargekry het hy haar vertel. Hulle het te veel van die wêreld se seekry gevoel.  Maar ek dra nie alleen nie, want dis nie net my hande nie het hy dan uitgebrei.  Dis God se hande.  
God se hande het haar aanmekaar gesit het sy dan gedink.  Het Hy net soveel tyd gevat om haar te maak as om haar sussie te maak?  Want net soms het dit vir haar gevoel asof sy dalk `n afskeepwerk was.  Iets wat God vinnig aanmekaar gesit het, sonder om te veel daaroor te dink.  Soms wanneer die perdekarre stof gemaak het oppad plaas toe.  En die stof was nooit vir haar nie.  En sy moes net tee maak en dit sitkamer toe vat.  En sy moes sien hoe die een wat regtig God se meesterwerk was al die aandag gekry het, al was sy jonger.  
Hannetjie L du Plooy.  Haar middelnaam gekies deur haar Pa wat mal was oor opera en die naam Leonara.  Sy het gehou van Leonara, maar sy was vir almal altyd net Hannetjie… Hannetjie du Plooy, byna byna mooi.  Haar sussie se eksotiese naam het haar naam net nog valer laat klink. En met haar lang bene, klokhelder lag en vingers wat op die klavier kon toor, het sy gestraal… en Hannetjie het met die jare meer en meer in die agtergrond verdwyn.  
“As ek maar vlerke soos `n duif gehad het” , herroep sy die woorde van `n Psalm.  Dan het sy weggevlieg…  Weg van hierdie plaas, met sy dorre vlaktes met die spatsels groen hier en daar.  Weg van die Kamdeboo kontrei wat al aarde is wat sy ken.  Weg van hierdie houtstoel wat haar aan haar oupa se hande laat dink en van haar swart rok wat sy  daardie oggend met `n swaar hart moes aantrek.  “ Daar na waar jy vir my wag.  Daar waar die liefde vir ons lag.”
Sy is lief vir die aarde, hierdie dor streek land wat al vir vyf geslagte aan haar familie behoort en nou net aan haar.  Sy het die grond bewerk -  in die veld met son en sweet, en ook in haar kamer op die vloer, met bid en smeek.  Want na haar ouers se dood, moes sy alleen aangaan op die plaas.  En teen daardie tyd het die bank alreeds te veel gebel.  
Was dit die moeite werd?  Al die jare van afsloof en opoffering.  Sy het grond gekies en dit het haar te veel gekos.  Meer as die geld wat haar pa’le geskuld het. Meer as net haar jeug.  Haar siel, haar soeke na iets meer as dit wat voor haar was.  Sy soek nie meer nie.  Die wind het al haar soek weggewaai.  "Draai draai westewinde draai." 
Dit was ’n donkiekar se stof wat haar hart laat klop het.  Want toe die stof gaan le het, was daar ’n klop aan haar deur.  Met sy hoed in sy hand, en sy oë wat te blou is teen die bruin van sy vel het hy daar gestaan.  Sy plooie het meer vertel as wat sy verslete klere kon.  Hy het sy naam gese en dit is nou nog ’n refrein wat oor en oor deur haar spoel.  "Jakob F de Beer, het jy my van die liefde kom leer?"
Hy het min dinge besit. Sy donkiekar wat die pad na haar huis toe na ’n week geken het.  Sy trots oor sy vernuf met windpompe.  En na ’n rukkie, ook haar hart.  Want vir die eerste keer het iemand na haar gekyk en  haar regtig gesien.  Hy het so baie vir haar gekyk.  Aan die begin skaam as sy opkyk en sy blik vang.  Maar later intens en meer intiem, sonder om weg te kyk.  En as sy vir hom koffie aangee, het sy vingers aan hare geraak en dit het haar hart laat dans.  Sy wat altyd alleen moes sit terwyl die ander dans. Hy het net na haar gekyk.  Hy sou net met haar wou dans.  "Draai draai draai tiekie tiekie draai."   
Die wind steek op en sy onthou weer dis vandag.  Sy onthou dis haar laaste keer op hierdie stoep.  Die laaste keer wat sy koffie drink uit haar beker en die bekendheid van die veldreuke om haar gaan geniet.  En die windpomp wat so klap klap klap in die verte met haar praat en vertel van die Water wat tog weer lewe bring.  Selfs na die dood.  
Vir ’n laaste keer laat sy haar gedagtes terug gaan.  Na die rit op die stofpad en Jakob se sing-stem. Die ring uit draad en die growwe-sag van sy soen.  Haar hart wat oorloop en uit haar lyf klim en vlieg saam met die voëls en draf saam met die donkies.  Die opgewonde beplan van ’n lewe saam.  Van asemhalings wat een word.  En nooit ooit meer hoef te soek nie, maar net altyd mekaar vind.  En toe ’n maand daarna, ’n dag voor die groot dag - opgewonde vir die windpompman wag.  Hom na ’n hoeveelheid ure gaan soek en toe wens sy het hom liewers nooit gevind nie.  "Draf draf donkie donkie draf."  
Sy staan op en loop na binne.  Trek stadig die swart rok uit en gooi die ander rok wat reg hang oor haar kop.  "Hannetjie du Plooy - in wit is jy tog mooi." dink sy somber.  Sy kyk af na haar hande, die draadring om haar vinger wat grof genoeg is om te pas by haar hardwerk-eelte.  Hierdie hande wat die afgelope tyd te veel trane gevang het. Wat dan net vir so kort ’n ander hand kon voel.  "Is dit dan ook God se hande?  Het Hy dan ook my trane gevang?"  
Sy trek die deur agter haar toe, klim op die donkiekar en ry in die stofwolk in. Sy dink aan ’n ou gedig.  

“Wilde wind, jy wat orals beweeg.  
Jy wat vernietig en wat behou.  
Hoor jy dan my klaaglied nou.”  


Elizabeth Kendell©

Friday, August 19, 2016

Friyay

Something to make you smile and kick of the weekend...



Ek en jy

Hoe sal ek jou dan beskryf?
Jy wat so ineengestrengel met my is
Jy wat oorgeneem het
My jou eiendom gemaak het
My bemin

Hoe sal ek my beskryf
Ek wat nou nie net meer ek is nie
Ek wat oorgegee het
Wat aan jou behoort
Wat jou erken

Jy en ek
         ek en jy 
die saam van ons bestaan 
dit is al wat ek verstaan