Ek praat so baie Engels, dink in Engels en lees baie Engels (die internet is vol Engelse artikels), maar die taal van my hart is en sal altyd Afrikaans bly...
"Die dag wat kom, sou sy lig gooi oor die vars jong spriete en stengels van die somergras wat al deur die geel winterstopsels gegroei het. Daar was nuwe blare en bloeisels aan die bossies en bosse. Die doringbome het al vars volblaartjies aan blink nuwe tyge. Die landskap sou al somer-sag wees, en agter hulle in die riete het die skerp nuwe groei al deur die droë stele van die vorige jaar begin breek asof hulle haastig was, want hulle moes al die groei in een seisoen klaarkry. Van die vinke wat hulle vroegaand so versteur het, het nog in die riete geslaap en hulle sou wel aan die stele hang, so naby moontlik aan hulle voltooide meesterstukke. Op die vlakte voor hulle sou daar ander voëls slaap: die luidrugtige dikkopkorhane, die kwartels en koestertjies in hulle knus holtes. In die doringbome en taaibosse sal daar tortelduiwe wees en naby hulle sal `n laksman slaap. Daar sal `n jakkals êrens draf en `n rooikat, `n muishond en `n vlakhaas. Pofadders en kapelle en akkedisse, geitjies en koggelmanders sal stram wag vir die son om hulle reptielbloed weer op te warm vir beweging, en daar sal bokkies wees op dun stelte - duikers, steenbokkies, springbokke."
P.G. Du Plessis
Fees van die Ongenooides
Eendag wil ek so skryf. Eendag wil ek harte bekoor met my eie beskrywing van die dag wat ontwaak... En siele aanraak met hoe ek woorde wik en weeg en aanmekaar weef.
Mens mag maar droom.
No comments:
Post a Comment