About Me

My photo
A constantly curious and melancholic wanderer...

Wednesday, June 2, 2010

Ek het iets om te se...

Meeste mense voel hulle het iets om te sê…
Die wat goed is met woorde, skryf boeke of artikels, gedigte en liedere. Die wat goed is met praat – debatteer, filsofeer en argumeteer. Dan is daar die mense wat verkies om dit wat hulle wil sê, vir hulle self te hou – al wat weggee dat hulle soos die res van ons iets het om te sê, is `n glimlag: “ek-weet-iets-wat-niemand-anders-weet-nie”.
Ek voel al van kleins af dat ek iets het om te sê: voor ek kon skryf, het ek lang wolhaarstories vir my gunsteling speelding - `n eekhoring wat ek gerieflikheidshalwe Eekie genoem het – vertel voordat ek aan die slaap geraak het. Toe ek in skool was en boeke ontdek het en uiteindelik tussen die lyne kon skryf – het ek besluit ek wil `n boek skryf. Dit is natuurlik eers na ek `n hele paar opstelle geskryf het oor dinge soos “My lewe as `n appel” en die groot boom vol feëtjies in ons tuin. My hoërskool loopbaan het ek danksy `n wonderlike onderwyser – die wonder en magie van Afrikaans ontdek. Volgende was inskrywings in my dagboek en dan…gedigte! Die eerste jaar wat ek begin het, kon ek nie genoeg kry daarvan nie. Die een moes beter as die vorige een wees. En alhoewel nie een regtig goed was of ware poësie was nie – het dit vir my so baie beteken. Ek het `n stem gehad. Min mense het dit geweet, maar ek het my emosies en diep begeertes op `n manier aan die wêreld (Afrikaanse onderwyser, 2 vriendinne en my ma) bekend gemaak.    Op universiteit het die gedigte minder geword, so ook die inskrywings in my dagboek. Ek het hier en daar deelgeneem aan filsofiese gesprekke – kenmerkend aan studente kuiers. Maar die deel van my wat moes skryf om myself te wees –het stadig maar seker verdwyn.
Tot nou die dag….my-soortvan-skoonma het my vertel van `n plek in die Karoo waar jy na N.P. van Wyk Louw se huis toe kan gaan en inspirasie vind en skryf… Skryf – soveel en solank as wat jy wil. Ure en ure van skryf. Iets het in my geroer - `n stukkie van die ou ek. Die ek wat heeltemal te vroeg wegbeweeg het van kinderboeke. Wat op `n tyd 8 boeke per week gelees het. Wat op dieselfde tyd geskok was deur André P Brink se boeke, maar ook diep ontroer deur die pragtige woorde, die diepte van die karakters en die lewenswaarhede.
 En toe besluit ek om iets te sê, want ek het iets om te sê. En ek glo daar is iemand daarbuite (waarskynlik my onderwyser, twee vriendinne en my ma) wat graag wil hoor wat ek te sê het. So hierdie is dag 1 van my terugkeer na die wonder en die sukkel van skryf…

No comments:

Post a Comment