About Me

My photo
A constantly curious and melancholic wanderer...

Sunday, June 20, 2010

Tyd vir `n gedig...

Kosmos
(Verwerking van Daffodils - William Wordsworth)

Ek dwarrel soos `n wolk wat hoog vlieg bo vlaktes en koppies
Toe ek skielik `n skare van kosmos - wit en pers - langs die dam opmerk
(vlietend en dansend in die wind)
 Soos sterre wat aanhou skyn en die melkweg verlig
- strek hulle in `n nimmereindigende lyn langs die oewer van die dam
`n Duisend of twee met oogopslag -
(huppelend en vrolik in die oggend lig)
Mens en digter staan verstom voor die samesyn van blom
 Ek kyk en dink en drink in die beeld met die wonder van `n kind

Lank daarna - onder my komberse toegevou,
laat ek my gedagtes dwaal
en raak weer verlore in die prag
Die stilte laat my los -
ek dans saam met die kosmos...

Monday, June 14, 2010

Public Day of Randomness..

More is "public day of randomness".
'n Dag geskep deur die uwe om mense te laat vergeet van hulle alledaagse probleme en heeltemal deurmekaar en verward te laat voel, maar vreemd gelukkig en tevrede met die lewe:)
Ek is random (nie seker wat die korrekte Afrikaanse woord is hiervoor nie - dalk onverwags?) So, danksy `n goeie vriend, wat mal was oor my nes ek is - en veral met my onverwagsheid geassosieer het, is ek voorgestel aan die weird en wonderlike wereld van Edward Monkton... Hy teken strokiesprente met segoed wat mens laat hardop lag - alhoewel jy nie heeltemal seker is hoekom nie. Een van my gunstelinge: "May the sausage of peace forever be dipped in the ketchup of happiness" Edward Monkton se strokiesprente is dan ook die basis wat gebruik word vir ons badges wat wat ons more gaan dra. Elkeen het `n unieke een wat by sy persoonlikheid pas. Myne: die Doodlike Pikkewyn...
 `n Paar idees om op hierdie unieke dag te doen:
  • oortuig mense dat mens `n kateter permanent moet oorweeg. Dit sal mens se lewe soveel makliker maak - veral die met TB (tiny bladder)
  • noem mense op die naam wat jy dink die beste by hulle pas
  • kyk Napoleon Dynamite (randomste fliek ooit) met 3D brille op
  • raak elke nou en dan in die middel van `n gesprek `n filsofiese sê ding kwyt soos: "Partykeer is die lewe moeilik vir mense oor die wereld"
  • eet saam met jou psigiatrie pasiente gras en kyk of dit regtig so smaaklik is soos wat hulle se.
 Miskien, sal jy soos die res van die wereld dink dat hierdie dag vir die minder verstandelik gesonde mense is... Ek dink net in hierdie wereld vol vrees en bekommernisse (en met hierdie wereld bedoel ek my eie klein wereldjie en verwys ek glad nie na dinge soos die gat in die osoonlaag of plaasmoorde nie) is daar dae soos hierdie nodig. Waar mens net kan laat gaan, glad nie omgee wat ander mense van jou dink nie...die vreemdste weird en wacky deel van jouself na vore bring en omring wees deur mense wat net so verassend onverwags optree...

Happy PDOR. Spread the word!!!!

Wednesday, June 2, 2010

Ek het iets om te se...

Meeste mense voel hulle het iets om te sê…
Die wat goed is met woorde, skryf boeke of artikels, gedigte en liedere. Die wat goed is met praat – debatteer, filsofeer en argumeteer. Dan is daar die mense wat verkies om dit wat hulle wil sê, vir hulle self te hou – al wat weggee dat hulle soos die res van ons iets het om te sê, is `n glimlag: “ek-weet-iets-wat-niemand-anders-weet-nie”.
Ek voel al van kleins af dat ek iets het om te sê: voor ek kon skryf, het ek lang wolhaarstories vir my gunsteling speelding - `n eekhoring wat ek gerieflikheidshalwe Eekie genoem het – vertel voordat ek aan die slaap geraak het. Toe ek in skool was en boeke ontdek het en uiteindelik tussen die lyne kon skryf – het ek besluit ek wil `n boek skryf. Dit is natuurlik eers na ek `n hele paar opstelle geskryf het oor dinge soos “My lewe as `n appel” en die groot boom vol feëtjies in ons tuin. My hoërskool loopbaan het ek danksy `n wonderlike onderwyser – die wonder en magie van Afrikaans ontdek. Volgende was inskrywings in my dagboek en dan…gedigte! Die eerste jaar wat ek begin het, kon ek nie genoeg kry daarvan nie. Die een moes beter as die vorige een wees. En alhoewel nie een regtig goed was of ware poësie was nie – het dit vir my so baie beteken. Ek het `n stem gehad. Min mense het dit geweet, maar ek het my emosies en diep begeertes op `n manier aan die wêreld (Afrikaanse onderwyser, 2 vriendinne en my ma) bekend gemaak.    Op universiteit het die gedigte minder geword, so ook die inskrywings in my dagboek. Ek het hier en daar deelgeneem aan filsofiese gesprekke – kenmerkend aan studente kuiers. Maar die deel van my wat moes skryf om myself te wees –het stadig maar seker verdwyn.
Tot nou die dag….my-soortvan-skoonma het my vertel van `n plek in die Karoo waar jy na N.P. van Wyk Louw se huis toe kan gaan en inspirasie vind en skryf… Skryf – soveel en solank as wat jy wil. Ure en ure van skryf. Iets het in my geroer - `n stukkie van die ou ek. Die ek wat heeltemal te vroeg wegbeweeg het van kinderboeke. Wat op `n tyd 8 boeke per week gelees het. Wat op dieselfde tyd geskok was deur André P Brink se boeke, maar ook diep ontroer deur die pragtige woorde, die diepte van die karakters en die lewenswaarhede.
 En toe besluit ek om iets te sê, want ek het iets om te sê. En ek glo daar is iemand daarbuite (waarskynlik my onderwyser, twee vriendinne en my ma) wat graag wil hoor wat ek te sê het. So hierdie is dag 1 van my terugkeer na die wonder en die sukkel van skryf…