Pappa, jy's 'n berg vir my
wat staan deur wind en weer
standvastig en o! so sterk
my kalm-word-plek keer op keer
Pappa, jy's die maan vir my
die eb en vloei van ons gesin
bepaal jy tog op jou stil manier
as jy vroeg weer die nuwe dag begin
Pappa, jy's die plaas vir my
die veld, die lug, die vee
Ek voel veilig as ek aan jou dink
daar waar jy voortgaan tree vir tree
Pappa jy's 'n beeld vir my
van God se krag en sy kleur
wat telkemale my laat hoop
en oor probeer, al is ek seer
Jy bly 'n berg vir my
al voel jy soms net plat
Jy bly die maan vir my
al voel jou lig dalk dof
Jy sal altyd my plaas wees -
selfs al is die veld nie meer
Jy leer my van krag
en van aanhou
Jy leer my van die Heer
Tuesday, December 31, 2019
Tuesday, December 24, 2019
Kersfees op die Plaas
Dis Oukersdag... die opwinding is voelbaar. Daar is iets magies in die lug. Kersklanke speel oor die radio. Mense lag (en is vreeslik besig). Die kospotte klingel in die kombuis. Die lekkerte van elke nuwe familielid wat bykom en blye gegroetery en verspotte gesprekke dra by tot die feesgevoel. Die persente om die kersboom groei elke keer wat my nuuskierigheid te veel word en ek gaan loer.
Dan is dit skielik donker... En ons sit almal in die blou sitkamer. Ouma en Oupa op hulle stoele. Hulle hou die vrolikheid en rumoer om hulle met 'n glimlag dop. Ons eet gewoonlik 'n vingerete op Oukersaand. Daar is heerlike frikadelle, tuna pasteitjies, worsies, rooi en groen uitjies en kasies op stokkies en nog baie meer. Neef Willie skep sy derde bord kos en glimlag skaam as hy sien ons kyk vir hom. Oupa Vennie sê Willie kan terwyl hy nou op is dan maar sy bord ook vol maak. Ouma kyk hom met betekenisvolle oë aan, maar sê niks - dit is immers Kersfees. Ons almal weet daar wag nog 'n heerlike soet poeding. Ons kinders kyk na die geskenke wat vir ons wink daar van onder die Kersboom uit. Dis so moeilik om te wag...
Die gesigte rondom die boom is nou en dan verskillend, soms 'n niggie of nefie dalk ekstra. Later 'n kind of twee se ander helfte. Die gevoel is altyd dieselfde. Die liefde voelbaar. Mamma is in haar element. Vrolik en vol grappies. Haar kroos is by haar en die kos is gemaak en die persente toegedraai en alles is perfek. Die liggies blink so mooi en dit laat haar dink aan die lig wat Jesus bring. Pappa kyk vir almal, lag vir sy besige vroutjie, sy hart is vol.
Na ete word ons almal stil. Pappa gaan haal die Bybel en lees vir ons die Kersverhaal. Sy rustige stem vertel die storie wat ons soveel keer voorheen gehoor het, maar wat altyd vir ons elkeen so besonders bly. Ons luister soms 'n kerslied: "Hierdie Kind" of" "Stille Nag". Ons bid saam. Die heiligheid van daardie aand, soveel jare gelede, toe die grootste Geskenk aarde toe gekom het, bly by ons almal.
En dan is dit uiteindelik tyd vir geskenke uitdeel. Daar is 'n vrolike gelag, die klank van geskenkpapier wat oopskeur, uitroepe van blydskap en 'n oor en weer gedrukkery en dankie sê. Partykeer kry ons presies wat ons wou gehad het, ander kere dalk meer iets wat ons nodig het en soms regtig net iets wat die sak pas, maar ons almal weet dat hierdie oor meer as persente gaan.
Dit gaan oor ons saamwees. Die vrolikheid en vrede wat ons voel is wat Jesus vir almal wil hê. Ons het hierdie een aand van bietjie vergeet van die dinge van die jaar wat swaar was. Die hard werk vir min geld en swaar-dra-al aan-die-een-kant. Die verloor van iemand spesiaals... Die hartseer en hardheid wat so deel is van mens se daaglikse bestaan. Die wete dat iemand siek is en jy nie hulle kan beter maak of hulle pyn kan wegvat nie.
Kersfees op die plaas... met die vars lug, die koeie en skape se geluide in die agtergrond, omring deur my familie wat soveel anders is as baie families. Wat hulle nie steur aan die skatte op aarde nie. Wat soveel waarde heg aan dinge wat die res van die wêreld oor Kerstyd soms vergeet... Dit is die beste tipe Kersfees wat ek ken.
My hart is daar vanaand...
Geseënde Kersfees my plaasfamilie.

Subscribe to:
Posts (Atom)